Grafiese kuns

Onder grafiese kuns (ook grafiek of prentkuns genoem) word verstaan kunswerke wat geskep word deur die toepassing van drukprosesse waaroor die kunstenaar (ontwerper) regstreekse beheer het. Onderskeid word getref tussen 'n oorspronklike en 'n reproduksie-grafiek. Die grafiese kuns is volgens die toegepaste drukprosesse in vier kategorieë onderverdeel: hoogdruk (houtsnee, houtgravure en lino snee), diepdruk (gravure, droënaaldets, akwatint, ensovoorts), vlakdruk (lito) en sifdruk.

Houtsnee is die oudste vorm van grafiese kuns en is aanvanklik gebruik om stowwe te bedruk. In China, waar papier reeds teen die einde van die eerste eeu uitgevind is, word die vroegste afdrukke van houtsnee op papier aangetref (19e eeu). Die oudste Europese prente dateer uit die 14e eeu. Talle groot kunstenaars het hulle toegespits op die vervaardiging van prente. Daarbenewens het bekwame graveurs reeds sedert die 16e eeu skilderye van bekende meesters gereproduseer. Tussen die 16e en die 18e eeu is veral kopergravure vir reproduksiedoeleindes gebruik. In die 1ge eeu het houtgravure en litografie dié rol oorgeneem. Sedert die mens van die begin van die 20e eeu af fotomeganiese prosesse vir reproduksie gebruik, behoort die grafiese tegnieke wat met die hand uitgevoer word, tot die terrein van skeppende kuns.

Pierneef, Geloftekerk

Groot prentversamelings word in Nederland aangetref, onder meer in die prentgalery van die Rijksmuseum in Amsterdam (alle tegnieke) en in die museum van Boymans-van Beuningen in Rotterdam. Die Stedelike Museum in Amsterdam besit 'n aansienlike versameling van litografieë en sifdrukwerke. Prentversamelings kan ook in België in die Museum Plantin-Moretus, die Stedelike Prentgalery (Antwerpen) en in die Prentgalery in Brussel gesien word.

Daar is min Suid-Afrikaanse skilders wat nie ook teken, ets of lino- en houtsneë maak nie. Nita Spilhaus (1878-1967), een van Suid-Afrika se eerste vroulike kunstenaars, was 'n vaardige etser, terwyl J.H. Pierneef (1886-1957) se houtsneewerke alombekend is. Gregoire Boonzaier (geb. 1909), Walter Battiss (geb. 1906), Alfred Krenz (geb. 1899), Rupert Shephard (geb: 1909), Cecil Skotnes (geb. 1926) en Sydney Kumalo (geb. 1936) het dikwels die grafiese kuns as tegniek gebruik. Fritz Krampe (geb. 1913) het as grafiese kunstenaar bekend gestaan en Maurice van Essche (geb. 1906) word as 'n uitmuntende grafiese kunstenaar beskou. Bettie Cilliers Barnard (geb. 1914) skep ook dikwels grafiese werke.

In die laaste jare word versamelings grafiese werke oor spesiale onderwerpe geskep, en grafiese kunswerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars word in museums oral in Suid-Afrika gevind. 


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne